Individueel
‘Ek kan myself help’. ‘Ek is nie mal nie, so dit is nie nodig nie’. ‘Ek gaan nie laat iemand vir my voorsê wat om te doen nie’. ‘Ek gaan in elk geval net geoordeel word’. ‘Ek is nie ‘n swakkeling nie want ek kan my eie probleme uitsorteer’. ‘Ek sal baie beter voel en optree as die mense om my net hulle probleme uitsorteer’.
Dit is die kommentare wat ek die meeste hoor as ek berading vir iemand voorstel. Dadelik voel die persoon mens dink hulle is swak en dan tree hulle verdedigingsmeganismes in om hulself te beskerm. Ek verkies nie die woord ‘mal’ wat rond gegooi word om iemand te beskryf wat uitreik vir hulp nie.
Geen persoon wat uitreik vir hulp is swak of mal nie. Dit is ‘n mite wat iewers gekoppel is aan berading en voed net verder ons vrese. Berading is nie altyd maklik nie, maar dit is die beste geskenk wat jy aan jouself kan gee. Ek dink dit vat moed om jouself kwesbaar te maak en die stap te neem.
Berading is vir enigiemand. Of jy deur ‘n probleem wil werk, ‘n bietjie leiding nodig het, iemand om na jou te luister en perspektief te gee, ‘n plek van veiligheid om jouself te ontwikkel, jou selfbeeld op te bou, seer te verwerk van jou verlede/hede, oor ‘n struikelblok te kom wat jou weerhou om jou eie potensiaal te bereik en die lys gaan aan.
Solank as wat jy wil, sal berading vir jou werk.
Solank as wat jy veilig voel by jou berader, sal dit vir jou werk.
Solank as wat jy die regte berading vir jou individuele behoeftes ontvang, sal dit werk.
“The one thing you can’t take away from me is the way I choose to respond to what you do to me. The last of one’s freedoms is to choose one’s attitude in any given circumstance.”
― Viktor E. Frankl